Books Should Be Free Loyal Books Free Public Domain Audiobooks & eBook Downloads |
|
Trekkerswee Met tekeninge van J.H. Pierneef By: Unknown (1877-1953) |
---|
![]()
Totius Trekkerswee Met tekeninge van J.H. Pierneef Tafelberg INHOUD 'n Woord van Inleiding Silwer Strale 1 Goue Gode 31 Groue Grawe 59 'n Woord van Inleiding Die versies verplaas ons bo op die Rand, ongeveer waar Johannesburg nou lê. Daar het oom Gert, 'n trekker, met vrou en enigste dogter, gaan woon. Later kom oom Koos, 'n kolonis, wat in die nabyheid grond gekoop het. Sy seun Willem raak verlief op Dina, oom Gert se dogter. Nadat die twee families saam Perdekraal fees gevier het, gaan Willem en Dina trou. Die tweede versereeks beskrywe die ontdekking van die goudvelde en die opkoms van Johannesburg, maar ook die verleiding waaraan Willem en Dina, wat by oom Gert inwoon, blootgestel is en waarvoor hulle beswyk. Die tweede stuk eindig dan met die groot Boer Britse oorlog. Die derde versereeks verplaas ons in die tyd toe die Unie tot stand gekom het, en beskryf die treurige einde van oom Gert en Dina. Dis die simpele storie waarop die hele gedig gebou is. Ons kan hier nog byvoeg dat die S.A. Akademie, deur die vrygewigheid van genl. Hertzog, in staat gestel is om jaarliks 'n milde geldprys vir letterkundige werke uit te loof. Die prys vir 1915 is aan hierdie gedig toegeken. [Illustrasie: "Verlore klein lê op die Rand / hul huisie in die trekkersland."] Silwer Strale I Dis heuwels, heuwels, heuwels net sover 'n mens se oog kan speur; grasheuwels waar ook riwwe gaan, met enkele stroompies tussendeur. Daar is geen hoë berge nie, want hoog is daar die wêreld self; en luggies waai daar dun en fris, of dit stroom uit die blou gewelf. Die baie dale en klowe wat die hoogland kruis en dwars deursny, bied winterskuiling vir die vee wat anders al te koud sal kry. En as die eerste rypies val trek bosveld toe wat kan, om daar in lekker warrem son hul winterlaers uit te span. Maar somers is dit heerlik op die Rand; dan lê in sonnegewaad die heuwels soos ramme te sluimer slaap langs strome wat lag en praat. Dan reën die wolke somaar as hul swaar skuif oor die hoë land, en die dak van Transvaal se geute spuit die water weg na alle kant. Dáár in die hoë wildheid met sy huppelende heuwelskoon het jarelank 'n trekker met sy vrou en kind alleen gewoon. II Verlore klein lê op die Rand hul huisie in die trekkersland; dit is 'n stip net in die wei die rietedak en muurtjies van klei. Daarlanges lê die beestekraal, waar smiddags doodse stilte daal as kalfies, in die son gebraai, die vlieë van hul kop lê waai, so dom gerus; en bly ontsteld eers opspring as uit ruie veld die koeie aandraf wat met hul geloei die awendstond vervul. 'n Bietjie verder van die huis, waar mielieblare helder ruis as windgeroer hul sanggeluid hef bo die dowwe velddreun uit, lê laer af, 'n klein vierkant, die rooi geploegde akkerland waaruit die boer by goeie jaar sy mielies, ál sy graan vergaar. 'n Enkele perske, aan die lug gewénd, dra daar sy goudgeel vrug, en bied, gedroog, in wintertyd, 'n skaars verkrygbre soetigheid. Dit is die plasie wat daar leg, só rustig in die wydte weg 'n koninkrykie op homself waaroor 'n helder hemel welf. III Nou ry 'n ruiter oor die rant. Die bodeur 's oop al as hy kom; net die onderdeur se werwel draai 'n vrouehand by die aanklop om. Sy groet as sy hom binnelaat, en vra hom wat sy wense is: hy moes maar bietjie sit as sy gaan om pa te sê dat daar mense is. Sy skuif verby met mooie buig en stap met ligte voetstap weg. Die vreemdeling sien skrams nog net haar volle wese en hare vleg. 'n Glimp, 'n glans, 'n gouigheid, nes of 'n gees verskyn. Maar nooit sal in sy lewenstyd dié ligbeeld uit sy siel verdwyn. So half verleë, asof bespied, laat sy haar hande strelend gly oor halme wat in volle saad hul hooghef aan haar wedersy, en saai 'n handvol grassaad heen, denkend so in verbygaan dat by seëning van wind en reën, 'n enkele wel sal wortel vat... Continue reading book >>
|
Genres for this book |
---|
Literature |
Poetry |
eBook links |
---|
Wikipedia – Trekkerswee Met tekeninge van J.H. Pierneef |
eBook Downloads | |
---|---|
ePUB eBook • iBooks for iPhone and iPad • Nook • Sony Reader |
Kindle eBook • Mobi file format for Kindle |
Read eBook • Load eBook in browser |
Text File eBook • Computers • Windows • Mac |
Review this book |
---|